Sunday, April 1, 2012

Lang frustrasie oor geld lei tot bloedbad





Niks gebeur toe hy swart pistool in sy mond druk
2012-03-31 23:17


Mnr. Louis du Randt wys hoe mnr. Martin van Deventer een van die die drie mans tydens ’n vergadering geskiet het nadat hy gehoor het hulle kan hom nog nie die geld betaal wat hulle hom skuld nie. Foto: Craig Nieuwenhuizen

Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's
Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's


Julian Jansen en Carien Kruger
Nadat hy twee sakemanne en ’n regsadviseur doodgeskiet het, het mnr. Martin van Deventer sy swart 9 mm-pistool in sy mond gedruk en die sneller getrek.

Net ’n klikgeluid.

Verwilderd het hy toe die magasyne van sy pistool omgeruil, weer die loop in sy mond gesit en die sneller getrek.

Dit het aan die lig gekom dié afgetrede struktuur-ingenieur van Gordonsbaai moes eers sy pistool herlaai voor hy homself om die lewe kon bring nadat hy oomblikke tevore die drie mans doodgeskiet het.

Van Deventer het saam met sy prokureur, mnr. Deon Beukman van Somerset-Wes, met sy skuldenaars, mnre. Johan Griessel (50) en Pieter Erasmus (53) van Mayborn Investments 75, en hul regsverteenwoordiger, mnr. Wimpie van Heerden (56), vergader.

Saam met hulle was mnr. Louis du Randt, wat namens ’n prokureursfirma vir Mayborn opgetree het.

Die oorsaak van Van Deventer se frustrasie was die trae terugbetaling van sy miljoene nadat hy in 2009 sy plaas Groot Valy in Springs vir R12 miljoen aan Mayborn verkoop het.

Volgens mnr. Douglas Richards, direkteur van Du Randt Richards Ingelyf, sou Mayborn, volgens die koopkontrak, R6 miljoen by die oordrag van die eiendom betaal en die balans by die uitreiking van ’n dorpstigting-sertifikaat.

Beukman het eergister aan Rapport gesê Van Deventer het spesifiek Gauteng toe gevlieg om by Mayborn te hoor hoe hulle die altesame R16 miljoen gaan betaal.

Hy het nog net R2,5 miljoen gekry.

Beukman het gesê Mayborn het ’n skulderkenning van R6,64 miljoen onderteken én ’n koopkontrak aangegaan van vaste eiendomme ter waarde van R12 miljoen, “met nog rente”.

Na verneem word, wou Mayborn op die Villa Valy-ontwikkeling bekostigbare wooneenhede bou, maar het met talle probleme gesukkel, waaronder hersonering.

Dit was so erg dat me. Cheryllyn Dudley, ACDP-LP, in 2010 namens die ontwikkelaars in die parlement gevra het hoekom dit so lank sloer om die nodige regte toe te staan om ’n ou mynhostel in 499 wooneen­hede te omskep.

Van Heerden het in Maart 2010 in ’n e-pos aan Dudley geskryf ’n deel van hul grond was sedert 1929 al vir die bou van ’n pad geoormerk.

Toe het die Ekurhuleni-munisipaliteit ook geëis dat Mayborn om ’n padsluiting aansoek doen én die grond koop.

Dit sou glo ’n lang proses wees “en ons kan nie bekostig om meer tyd te verloor nie”, het Van Heerden toe geskryf.

Du Randt het eergister gesê sy kliënte het die pad ’n “oorbrugbare probleem” genoem.

Die grootste struikelblok vir hul dorpstigting-aansoek was ’n vereiste bestralings-impakstudie omdat die grond naby ’n goudmyn is.

Dit kon tot R500 000 kos en die inligting was moeilik bekombaar.

Intussen het ’n finansier, wat R20 miljoen vir die beginfase van die ontwikkeling aan Mayborn geleen het, regstappe begin om hul terugbetaling te eis.

***

Mnr. Louis du Randt, prokureur vir Mayborn Investments:

Ons ses sit om die lang tafel en bespreek moontlike oplossings vir die vertragings met die Villa ­Valy-ont­wikkeling.

Ná ’n driekwartier staan mnr. Martin van Deventer op en sê vir mnr. Pieter Erasmus: “Ek is 65 jaar oud, my geld is op, kan julle my maandeliks afbetaal?”

Erasmus antwoord dat hy ook van die ontwikkeling vir geld afhanklik is en hom dus nie kan betaal nie.

Van Deventer draai dan na mnr. Johan Griessel en vra: “Kan jý my betaal?”

Griessel sê dat hy in dieselfde si­tua­sie is.

Waarop Van Deventer hom vra wat hulle met die R20 miljoen gedoen het.

Griessel draai na my en sê-vra: “Ons hoef dit seker nie vir jou (Van Deventer) te gee nie.”

Voordat ek kan antwoord, hoor ek ’n skoot klap en sien hoe Griessel getref word.

Hierna volg die skote vinnig op mekaar en word mnre. ­Pieter Erasmus en Wimpie van Heerden ook afgemaai.

Ek staan op, maar Van Deventer beveel my om te sit.

Daarna gee hy sý prokureur, mnr. Deon Beukman, opdrag om by die deur te gaan staan.

Nadat Van Deventer die drie geskiet het, stap hy na hulle, sê hy wil “seker maak” en skiet elkeen ’n tweede keer.

Op my versoek laat hy my ook toe om by die deur te gaan staan.

Dan sê hy vir Beukman dat hy sy eie lewe gaan neem en vra Beukman om na sy “vrou” te kyk en sy boot te verkoop.

Hy gaan sit in die hoek van die kantoor, sit die loop van die vuurwapen in sy mond, trek ’n skoot, maar daar is net ’n klikgeluid.

Hy kyk verwilderd op, haal die loop uit sy mond, sit ’n ander magasyn in en trek weer die sneller.

Mnr. Deon Beukman, prokureur van Van Deventer:

Die skietery was nie op die ingewing van die oomblik nie en die ding (frustrasie oor nie-betaling) kom al lank aan. Ek sou nie die skieter, geklee in ’n blou geweefde hemp, kortbroek en sandale, in die kantoor kon konfronteer nie, want ek was bang dat ek geskiet kon word.

Ek kan nie enige drasak onthou waarin Van Deventer sy vuurwapens kon weggesteek het nie.

In ’n restaurant het ons ’n glasie lemoensap gedrink voordat ons na die vergadering is.

Me. Jean Parker, Van Deventer se 68-jarige vriendin, ’n afgetrede dans-instrukteur van Gordonsbaai, wou by navraag nie kommentaar lewer nie.

Sea Dog, die boot wat Van Deventer besig was om te restoureer, het gister verlate in die Gordonsbaai-hawe gelê.

No comments:

Post a Comment