Tuesday, July 6, 2010

‘SA jagbedryf berus op uitbuiting van diere’






2010-07-05 22:36

Elise Tempelhoff

Die Suid-Afrikaanse jagbedryf berus op die uitbuiting van diere, wreedheid en die vernietiging van biodiversiteit.

So sê die omgewingsorganisasie Animal Rights Africa (ARA) in ’n verslag: “Hunting in South Africa: a bloody mess”, wat gister uitgereik is.

ARA wys daarop dat hoewel die bedryf jaarliks sowat R754 miljoen vir die land verdien, dit dikwels berus op die uitbuiting van diere.

“Daar is bitter min sprake van etiek,” het me. Michele Pickover, woordvoerder van ARA, gesê.

Luidens die verslag word minstens ’n miljoen diere jaarliks gejag – mees-tal om hul horings of hul pels, of “sommer net vir die lekker”.

“Suid-Afrika is Afrika se gewildste bestemming vir buitelanders wat enigiets van olifante en renosters tot duikers wil jag. Baie Suid-Afrikaners jag ook vir ontspanning. Stropery, veral van renosters, vier hoogty. Hiermee saam boet Suid-Afrika sy biodiversiteit in.”

Pickover het gesê dit is hoog tyd dat die regering ’n kommissie van ondersoek aanstel omdat geld die belangrikste dryfveer geword het.

In die verslag word mnr. Stewart Dorrington, voormalige president van die Beroepjagtersvereniging van Suid-Afrika, aangehaal. Hy wys daarop dat baie veeboere na wildboerdery oorgeskakel het. Baie van hulle het geen ervaring van wildboerdery nie en ook geen idee van die bewaring van biodiversiteit nie, het hy gesê.

“Boere het ’n alternatief – met aantreklike ekonomiese gewin – gevind vir veeboerdery. Die gevolg is dat spesies na gebiede verskuif is waar hulle nie hoort nie, gene is gemeng en bevolkings is gemanipuleer, met die uitsluitlike doel om geld te maak.

“Bewaring bly dikwels vergete,” het Dorrington gesê.

Pickover het gesê ARA gaan die verslag aan die parlement voorlê sodat die portefeuljekomitee oor omgewingsake dit kan bespreek.

“Ondanks die omvang van die jagbedryf in Suid-Afrika word dit swak gereguleer omdat dit hoofsaaklik in provinsies se hande is.”

Volgens Pickover is dit noodsaaklik dat die nasionale departement van omgewingsake die regulering behartig en ’n behoorlike databasis hou van diere wat in die land gejag word.

Me. Buyelwa Sonjica, minister van omgewingsake, het onlangs in die parlement gesê die jagbedryf verdien jaarliks sowat R754 miljoen vir die land.

Sy is in die proses om die jagbedryf te hervorm sodat swart “vennote” groter ekonomiese voordeel daaruit kan trek.

Dr. Gerhard Verdoorn, visepresident van die Suid-Afrikaanse jagters-en-wildbewaringsvereniging, het in reaksie op die verslag gesê die probleem lê nie by die jagters nie, maar by die telers.

“Die meeste jagters jag verantwoordelik. Hulle ondersteun volhoubare benutting. Om ’n ‘geblikte’ leeu te skiet, is nie jag nie,” het hy gesê.

Beeld

Kommentaar deur Sonny

Ja dis net vir die "Rich and Famous!"

Nou wil die ANC die dedryf met BEE betrek?

Soos die myne?

No comments:

Post a Comment