Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's Ons was daar – Herinneringe van die wenners van die oorlog om Suider-Afrika is wesenlik ’n poging om die Angolese oorlog uit te beeld as ’n Koue Oorlog-botsing tussen ’n Kommunistiese supermoondheid en “ons” – die Boere en hul bondgenote. Dié siening is natuurlik ’n belediging vir diegene wat verkies om dit te sien as ’n struggle tussen vryheidsvegters en apartheidsrassiste, maar deesdae word dit bra moeilik om ’n man soos Jannie Geldenhuys hieroor aan te vat. Die bewyse van die teenoorgestelde is te sterk.
Onlangse navorsing deur prof. Stephen Ellis van die Universiteit van Leiden dui daarop dat selfs die kwansuis gematigde Nelson Mandela ’n geheime lid van die Kommunistiese Party was. Ellis beweer dit was die SAKP wat in 1960 teen Pretoria oorlog verklaar en daarna die noodlottige besluit op die ANC afgedwing het. Die gevolge was voorspelbaar: die SA Polisie het gereageer en die ANC uit die land verdryf. In ballingskap het ANC-leiers al hoe dieper in die Sowjet-kamp inbeweeg. Volgens die skrywer Mark Gevisser, aan wie toegang verleen is tot sensitiewe ANC-dokumente, was 29 van die 30 grootbase in die ANC se nasionale uitvoerende komitee in die sewentigs en tagtigs geheime lede van die SAKP.
Met ander woorde, die regses was reg: die ANC was inderdaad ’n Rooi komplot en as sulks ’n pion in ’n groter Sowjet-magspel, waarvan die doel was om Sowjet-kliëntstate dwarsdeur Suider-Afrika te vestig. Toe die ANC nie kon hond haaraf maak nie, het die Sowjet betaal om Kubaanse troepe na Angola te stuur. En toe ook dít nie werk nie, het hulle Russe gestuur om advies en opleiding te gee. Teen 1987 beskik Angola oor een van die grootste leërs ooit in Afrika: sewe brigades van plaaslike soldate, toegerus met die jongste Sowjet-tenks, missiele en vegvliegtuie, met ’n reserwe van 50 000 Kubane. In Junie van dié jaar steek die voorhoede die Lomba-rivier oor en begin suidooswaarts rol, vasbeslote om Unita te verdelg.
Die Britse akademikus James Chin het verlede jaar ’n linkse weergawe gepubliseer van wat kamtig daarna sou gebeur het. In sy weergawe het die SA Weermag besef hul Unita-makkers is in die sop en hulle te hulp gesnel, maar ’n verpletterende nederlaag in die omgewing van Cuito Cuanavale gely. Tegelykertyd het Kubaanse troepe met die persoonlike tussenkoms van Fidel Castro ’n blitzkrieg van stapel gestuur en derduisende Suid-Afrikaners omsingel.
Volgens Chin het Castro die verslae oorlewendes ’n keuse gebied: lê julle wapens neer of sterf. Die verslane Suid-Afrikaners het glo gehensop en huis toe gestap. Hierdie wolhaarstorie of ’n variant daarvan het een van ons regime se grondliggende mites geword. Daarvolgens is die apartheidsweermag in Angola verpletter, ’n ontwikkeling wat FW de Klerk sou gedwing het om Mandela vry te laat en meerderheidsregering te aanvaar.
Die hemel het na Guy Fawkes gelyk ... In oorloë is waarheid dikwels die eerste slagoffer, maar dié konkoksie is ’n triomf van wensdenkery en iewers langs die pad het genl. Geldenhuys en sy medesoldate duidelik hul gesamentlike moer gestrip. Hulle het besluit hulle gaan die rekord regstel – derhalwe hierdie boek, ’n samestelling van artikels deur dosyne soldate wat die oorlog meegemaak het. Senior offisere se skryfwerk is geneig om droog te wees, maar hier en daar kom ’n bliksemstraal, dikwels uit die pen van een van die jong dienspligtiges wat in September 1987 slagveld toe gestuur is. Aanvanklik was verveling die grootste vyand: verveling en vlieë, gyppo guts en lelike goggas soos die sogenaamde “pismot” wat brandende suur op ’n troepie gespoeg (of gepis) het.
Een laaitie vertel hoe hy en sy makkers droëvrugte uit hul “ratpacks” gebruik het om mampoer te stook. Nog een vertel van ’n ou wat so verveeld was dat hy Sowjet-Migs met ’n spieëltjie geflits het om hulle uit te lok. Maar die Mig-vlieërs was versigtig om te laag te vlieg en die Migs het in elk geval min gevaar gebied, want die Russe het blykbaar nie besef dat ’n gewone bom wat in sand ontplof slegs ’n groot gat vir homself grawe nie.
Intussen, êrens in die noorde, was stafsers. Anton Beukman betrokke by ’n “mission impossible”. Hy en ’n span recce-duikers het opdrag gekry om ’n brug oor die Cuitorivier op te blaas om te verhoed dat versterkings die Kubaanse/Angolese magte op die suidelike oewer bereik. Hulle het geweet die rivier wemel van krokodille en hul enigste teenmiddel was “die graspol in die hol”; dit wil sê bid en hoop op die beste. Die recces het teen sononder in die rivier geglip en ses uur geswem tot by hul teiken. Wagte het hulle raakgesien toe hulle plofstof op die brug plaas; een is geskiet en gewond.
Daarna swem hulle stroom-af in die donker nag. Agter hulle lyk dit na Guy Fawkes soos ontploffings die hemel verlig. Teen dagbreek was Beukman agter. Hy’t in die riete weggekruip en teen sonsondergang weer begin swem. Skielik het ’n krokodil hom gegryp, “soos ’n lappop rondgeslinger” en teen die bodem vasgepen. Die dier het gewag dat sy prooi verdrink, maar hom met Beukman misreken. Dié het sy mes uitgepluk, die krokodil in die oog gesteek en nog 20 kilometer na die optelpunt geswem met dye en boude wat amper flenters verskeur was. Kort daarna begin die slag in erns. Die Suid-Afrikaners en hul bondgenote was in ’n minderheid van een teen drie, en hul teenstanders het van die mees gevorderde radar- en lugafweerstelsels op aarde gehad. Ná twee maande van onophoudelike aksie was die troepe naby waansinnig. Klere flenters, swart gebrand, honger, stink soos muishonde. Maar hulle het daarin geslaag om die vyand te stuit.
Volgens die Amerikaanse diplomaat Chester Crocker was verliese aan die Sowjet-kant “verstommend”. Twee Angolese brigades is uitmekaar gemoker, oorlewendes het vir hul lewe gevlug – die slagveld agter hulle besaai met miljarde dollar se Sowjet-wapentuig. Soos Geldenhuys vertel, kon alleen ’n Rooi diktator so ’n vernede- ring in ’n oorwinning omskep. In die vrye wêreld sou die pers die waarheid geopenbaar en Castro uitgelag het. Hoe weet ons die Suid-Afrikaanse weergawe is waar? Deels omdat dit so gedetailleerd is, maar ook omdat die SA Weermag se bevelhebbers bereid is om hul feilbaarheid te erken. Vat byvoorbeeld die bydrae van kol. Junior Botha, ’n knorrige oubaas wat in beplanning betrokke was. Botha skroom nie om te sê sy seniors (ook hyself) was by tye dwaas nie.
Syns insiens was dit veral dom om te glo hulle kon die vlugtende Angolese/Kubaanse leër agternasit en uitwis – die afstande was te groot, en die Suid-Afrikaners was sonder lugdekking. Maar die generaals wou nie luister nie en het hul les geleer. “Ons is wie ons is,” sug die ou Boerekryger. “Ons gaan van mekaar verskil.” Teen Februarie 1988 was daar in elk geval vredesonderhandelinge aan die gang en het die Suid-Afrikaners tou opgegooi en onttrek. Die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie. Die Sowjet-unie was besig om in duie te stort; sy verliese in Angola was die einde van sy imperiale droom. Wat van die swart voetsoldate? Maar terwyl ek my hoed vir Geldenhuys en sy soldate lig, moet ek een bedenking lug.
Die generaals spog dat hul oorwinnings met minimale verliese behaal is – net 31 Suid-Afrikaanse gesneuweldes. ANC-ondersteuners beweer die SA Weermag lieg, maar ek twyfel: As ’n Boerseun op die slagveld sterf, het die hele dorp geweet en by sy begrafnis opgedaag. Dit was amper onmoontlik om weg te steek. Wit Suid-Afrikaners het egter net ’n klein deel van die anti-Sowjetmagte uitgemaak en dikwels op ’n afstand ondersteuning gebied. Die voetsoldate was swartes van Unita; ’n menigte van hulle het gesneuwel om die SA Weermag te laat oorwin. Dit skyn oneerbaar van Geldenhuys en Kie. te wees om hul opofferinge minder te ag .
(Hy sê Unita se verliese is Unita se saak en moes dus deur Unita bekendgestel gewees het. Nogtans.) In die geheel beskou ek Ons was daar as ’n belangrike boek ondanks tekortkomings. Die triomfantelike toon is soms ’n bietjie te veel, maar die ANC se oorwinningsfantasie is selfs aanstootliker. De Klerk het in die onderhandelingsfase toegelaat dat die ANC wegkom met windmakerige grootpratery omdat hy geweet het hulle het iets nodig om op trots te wees.
Maar nou gebruik Malema en ander die mite van Cuito Cuanavale om te beweer die ANC was te vrygewig teenoor die verslane wit mense en dat hulle dus die morele reg het om die Grondwet te wysig en plase sonder vergoeding af te vat. Daarvan weet ek nie mooi nie. Die ANC het ’n vreedsame skikking aanvaar omdat hulle tot die besef gekom het ’n militêre oorwinning was onhaalbaar. En daarvoor moet ons vir Jannie Geldenhuys en sy manne dankie sê.
Rian Malan is ’n skrywer en joernalis. Sy bundel artikels, Resident Alien, is onlangs weer deur Jonathan Ball gepubliseer. BEELD Geraamtes uit die Rooi argiewe 2012-09-23 21:50 Artikelopsies Deel Kry Beeld op Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's Rian Malan Stephen Ellis lê ’n geskiedenis bloot waarvan die regerende party liefs sal wil vergeet. Daar is iets vir almal hieruit te leer, skryf Rian Malan.
External Mission: The ANC in Exile, 1960-1990 Stephen Ellis JONATHAN BALL, R200 As tiener het ek dikwels plegtig onderneem om by die Kommunisteparty aan te sluit – deels omdat ek myself as links beskou het, maar hoofsaaklik omdat dit my pa, wyle Attie Malan, ’n lewenslange NP-ondersteuner, geïrriteer het. Toe gaan ek Amerika toe, waar ek betrokke geraak het by die Second Thoughts-beweging, ’n soort Alkoholiste Anoniem vir ontnugterde oud-kommuniste. Party van daai ouens het saam met Fidel Castro baklei. Party het dekades in Viëtnam se woude teen imperialisme geveg. Party was lede van die Oosblok-kommuniste-aristokrasie.
Almal had gebroke harte, want hul stryd het uitgeloop op polisiestate waar werkers honger gely en vrydenkendes in die tronk beland het. Sulke stories het my laat besef my pa was reg: Die kommunis is ’n dier wat fyn dopgehou moet word. “’n Kommunis,” het hy altyd gesê, “sal nooit huiwer om tot sy beweging se voordeel te lieg nie.” Toe ek 19 was, het dit na stront geklink. Vandag weet ek beter, deels danksy prof. Stephen Ellis, die Amsterdam-gesetelde akademikus wat vroeër vanjaar onthul het Nelson Mandela was eens ’n geheime lid van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty.
Ek het gedag dis ’n sensasionele storie, maar die wêreldmedia het dit heeltemal geïgnoreer – seker omdat hulle weier om te glo dat Mandela in staat is om oor enigiets te lieg. Diegene wat Ellis se Mandela-bom geïgnoreer het, sal glad nie van sy nuwe boek hou nie, want dis ook vol skokkende verrassings. Die meeste Suid-Afrikaners glo byvoorbeeld dat die ANC op Dingaansdag in 1961 oorlog teen Pretoria verklaar het. Nie so nie, seg Ellis. Volgens navorsing wat hy in External Mission uiteensit, is die kritieke besluit eintlik ’n jaar vroeër op ’n geheime Kommunisteparty-vergadering in die wit buurt Emmarentia in Johannesburg geneem.
Daarna, sê Ellis, moes die kleine SAKP die magtige ANC oorreed om sy voorbeeld te volg, met geheime agente soos Mandela wat ’n leidende rol gespeel het. Volgens Ellis was wat toe sou volg “tantamount to a coup within the ANC”. Die Kommuniste het pres. Albert Luthuli, wat teen geweld gekant was, opsy gestoot en MK geskep as ’n soort Kommunisties-beheerde feodale ryk binne die moeder-organisasie. Hieroor het hulle natuurlik ook gelieg. Hulle moes.
Die Kommunisteparty was onwettig in Suid-Afrika. Maar, soos Ellis opmerk, daar was nog ’n rede: Afrika-leiers soos Kaunda en Nyerere het dit duidelik gemaak dat hulle teen énige vennootskap met wit mense en Indiërs gekant was, selfs al was hul beleid Rooi. Afrikaniste binne die ANC het ’n soortgelyke houding aangeneem, wat verklaar waarom hulle so hard baklei het om die ANC ’n slegs swart organisasie te hou. Hul vrees, volgens Ellis, was dat hulle opsy gestoot sou word deur goed opgevoede wit mense en Indiërs, soos in Londen die geval was waar Joe Slovo en Yusuf Dadoo se operasie nie kon spog met ’n enkele swart gesig nie.
By hierdie spannings kom nog die wydverspreide verwensing van “Xhosa-oorheersing” en ’n heimlike agterdog aan die kant van die troepe dat leiers nie juis in baklei belanggestel het nie. Ons het dikwels dié soort dinge by die wit regses gehoor. In Ellis se boek hoor ons dit van kamerade self, gewoonlik in die vorm van vertroulike korrespondensie uit verskeie argiewe opgediep, onder meer die argief van die Stasi, die Oos-Duitse geheime polisie. Junior kamerade kla oor wydverspreide demoralisering weens “verduistering, korrupsie en misbruik van vroue”. Senior kamerade stem saam. “Daar is groot fout met ons beweging,” skryf Mark Shope. Jack Simons gaan so ver as om te sê die gewapende stryd het ’n “charade” geword wat net dien om skenkings die ANC se koffers te laat invloei.
Simons kon hom vryelik uitdruk, want hy was lid van die beweging se Kommuniste-elite. Troepies in kampe was minder gelukkig. Ná 1969 was hulle onder beheer van ’n hardvogtige veiligheidstruktuur wat deur Oos-Duitsers opgelei is en ’n Stalinistiese houding jeens meningsverskil gehad het. “Enigiemand wat die leierskap durf kritiseer het, het die beweging ondermyn,” skryf Ellis. “Aangesien dit die belange van die vyand gedien het, was hulle ‘objektief’ gesien as vyandelike agente en het verdien om dienooreenkomstig behandel te word.” In die ANC het dit marteling, gevangenskap en dikwels die dood beteken. Tog het opstand in die ANC se militêre kampe net onder die oppervlak bly prut.
Soldate muit gewoonlik om die slagveld te ontvlug, maar in die ANC was die omgekeerde waar: Soldate was pal in beroering om huis toe gestuur te word om te veg, net om deur kommissars, oënskynlik heel tevrede met hul lewe in ballingskap, gestuit te word. Volgens Ellis kon dit wees omdat elemente van die beweging se leierskap betrokke was by winsgewende misdadige skemas wat die ondergrondse netwerk gebruik het om mandrax in Suid-Afrika ín te smokkel en gesteelde motors daarúít. Vandag word Suid-Afrika regeer deur manne wat pal die ANC se militant-heldhaftige geskiedenis oproep om hul mag te regverdig en teenstanders te verwerp as reaksionêre. “An unkind critic,” sê Ellis, “would call this a fantasy or delusion.” Ellis sou waarskynlik ’n soortgelyke oordeel oor my uitspreek. Ná ’n dop of twee is ek totaal kapabel en oortuig myself die Afrikaners se stryd in die laat 20ste eeu was wesenlik ’n stryd teen Stalinisme.
Ek is nie verkeerd nie, maar, uit erkenning vir Steve Biko se herdenkingsdag, laat ek erken ek is ook nie reg nie. Hy was nie ’n Kommunis nie, maar ons het hom in elk geval vermoor. Laat ons ook net ’n wyle hieroor nadink, dat ons dit nie herhaal nie. Rian Malan is ’n skrywer en sosiale kommentator. Stephen Ellis is die Desmond Tutu-professor van sosiale wetenskappe aan die Vrije Universiteit Amsterdam en senior navorser by die Afrika-Studiecentrum in Leiden. Hy is ook voormalige redakteur van die nuusbrief Africa Confidential en van die tydskrif African Affairs van die Britse Royal African Society. Foto: Verskaf BEELD -
Comments by Sonny -
THE SACP AND NOT THE ANC WAS IN CONTROL OF THE COMMUNIST ONSLAUGHT AGAINST APARTHEID DURING THE 1960's. Now Zuma and his cronies are giving the SACP/COSATU alliance the cold shoulder when it comes to distribution of Post Apartheid wealth!
It's a great pity that Prof Stephen ELLIS did not work for SAP, Stratcom or MI. On 2nd August 1962 the ANC/SACP were dealt a death blow when Braam Fischer and Nelson Mandela and all their comrades were arrested at Little Lilly Rivonia.
Ronnie Kasrils and his comrades in their book LONDON Recruits "THE SECRET WAR AGAINST APARTHEID" Edited by Ken Keable Introduction by Ronnie Kasrils Forwardword by Z. Pallo Jordan had to resort to pamphlet distribution within the borders of SA and to recruit members for the then banned ANC/SACP/SACOD.
THERE IS NO QUESTION THAT DURING THE SA BORDER WARS 1966 - 1989 SOUTH AFRICA HAD THE BEST, WELL OILED, WAR MACHINE IN AFRICA AND PERHAPS THE REST OF THE WORLD FOR ITS SIZE! WE PAY TRIBUTE HERE TO ALL OUR FALLEN HEROES AND THE BRAVE SOLDIERS WHO DID BATTLE WITH THE ENEMIES OF SOUTH AFRICA. THE SAP AND SADF AND ALL THEIR COMPONENTS WILL GO DOWN IN HISTORY AS THE BEST OF THE BEST! THE PEOPLE WILL RULE SOUTH AFRICA AGAIN!
Ek het nog altyd gewonder: hoe op aarde kon ons die "oorlog" verloor, JUIS om die redes wat jy in jou laaste paragraaf skryf. Ons sal seker eers in die ewigheid die WAARHEID hoor! Nog 'n ding: snaaks hoe al hierdie selferkende liberales soos Malan se oë die een na die ander oopgaan.....
ReplyDelete