Sunday, December 22, 2013

Rapport-ondersoek: Al jou geheime is op die mark

Laat Geregtigheid geskied..........in SA




2013-12-21 22:52




Jeanne van der Merwe





'n Winsgewende sluikhandel in bankstate is oopgevlek met die arrestasie van twee Gautengse private speurders en twee voormalige bankamptenare op aanklagte van bedrog en korrupsie.

Een bankwerknemer het meer as R50 000 verdien deur gesteelde bankstate aan ’n private speurder te verskaf.

Die ander werknemer het honderde bankstate teen sowat R50 per staat aan ’n ander private speurder oorhandig.

’n Rapport-ondersoek het verder aan die lig gebring dat amper enige vertroulike persoonlike inligting teen ’n prys beskikbaar is aan derde partye.

Bronne in die private speurbedryf sê groot ondernemings koop gereeld inligting oor mededingers of voornemende sakevennote.

Die florerende handel in private inligting is te wyte aan ’n dramatiese toename in die getal private speurders wat onregmatig telefoonrekords, bankstate en ander sensitiewe inligting bekom.

Die Valke het voorverlede week die private speurders en oud-bankamptenare wat deel was van twee verskillende sindikate in hegtenis geneem.

’n Tussenganger en ’n Kaapse sakeman is ook aangekeer.

Die ses verskyn in Februarie in die landdroshof in Kaapstad.

Die bestaan van die sindikate het aan die lig gekom nadat drie Kaapse boumaatskappye strafregtelike klagte by die polisie ingedien het.

Hulle het ondersoekers aangestel om vas te stel hoe hul bankstate in die besit van mededingers gekom het.

Dié sakemanne, wat anoniem wil bly weens die hangende regstappe, is verlede jaar gewaarsku dat ’n mededinger hul bankstate bekom het. Dié informant het ook aan hulle van die gesteelde state verskaf.

In een geval het Eerste Nasionale Bank (ENB) enige onreëlmatigheid ontken – totdat ’n slagoffer ENB voorsien het van ’n gesteelde bankstaat wat hy van die informant ontvang het.

Ook Standard Bank het ontken dat die veiligheidsmaatreëls vir rekeninge verbreek is.

Dít op dieselfde tyd wat die slagoffer uitgevind het ’n mededinger het een van sy oorsese verskaffers gekontak om sý prys met ’n laer kwotasie te probeer klop.

Toe die slagoffers van die diefstal bewus raak en hul banke kontak, het die banke tot weke geneem om hul e-posse en telefoonoproepe te beantwoord.

Dit het die kliënte meer as ’n jaar geneem om die banke sover te kry om te erken dat daar ongerymdhede was.

Johan Louw, ENB se risiko-hoof van kommersiële banke, sê die bank het slegs toegang tot bankstate op spesifieke datums ondersoek.

Tydens dié datums was daar nie onwettige toegang nie.

“Alle ENB-werknemers is kontraktueel verbind tot ’n vertroulikheidsooreenkoms om geen ­kliënte-inligting sonder toestemming bekend te maak nie,” het Louw gesê.

“Ongemagtigde toegang kan nagespeur word tot by individuele werknemers. En ENB sal vinnig optree wanneer daar bewyse is van sulke handelinge.”

ENB het erken ’n werknemer is ná ’n dissiplinêre verhoor afgedank en dat die bank ’n klaer in ’n strafregtelike saak is.

Ross Linstrom, Standard Bank se woordvoerder, het gesê die bank was “in gereelde kontak met die betrokke kliënt”.

Ondersoeke deur die Kaapse kantoor van die Valke, bygestaan deur Jack Brice, ’n private speurder, het aan die lig gebring dat een van die private speurders betaal het om bankamptenare te werf wat gewillig was om inligting teen betaling te smous.

Die private speurder sou dan die bankstate aan ander private speurders verkoop en sy eie wins byvoeg.

Dié mense werk almal agter die skerms saam

Daar is gereeld van werknemers van die ontbinde maatskappy ­Associated Intelligence Network (AIN) verwag om die wet te oortree om inligting te kry, het ­Michael Moss, ’n voormalige private speurder van die AIN, in ’n beëdigde verklaring voor die hooggeregshof in Johannesburg gesê.

Volgens Moss strek die AIN se tentakels wyd en het hy ooreenkomste gehad met:

* Bankwerknemers wat bankstate en inligting kan verskaf oor wie tekenregte het op bankrekeninge;

* Werknemers van Telkom wat inligting oor oproepe teen betaling sal verskaf, asook werknemers by selfoonmaatskappye wat gespesifiseerde state kan verskaf;

* Amptenare by kantore van die meester van die hooggeregshof wat inligting oor trusts teen betaling kan verskaf;

* Wetstoepassers wat misdaadrekords, inligting oor wapens en voertuigeienaarskap kan lewer;

* Bronne binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om inligting oor individuele belastingbetalers se aanslae te verskaf;

* Werknemers van versekeringsmaatskappye wat inligting oor versekerde items kan verskaf; en

* Amptenare van die departement van binnelandse sake wat inligting oor vingerafdrukke, identiteitsdokumente en paspoorte kan verskaf.
Gekrap in jou slaai onwettig

Vertroulike persoonlike inligting kan ingevolge die wet net deur ’n lasbrief of duur siviele aksie bekom word.
Die kragreus Eskom moes verlede maand om verskoning vra nadat dit aan die lig gekom het dat hy private speurders gekry het om te spioeneer op aktiviste wat teen die Medupi-kragstasie gekant is.
’n Private speurder wat anoniem wil bly, het ’n geraamde pryslys vir sulke onwettige “inligting-aankope” aan Rapport gegee:
* Iemand se selfoonstate kan tot R9 000 kos;
* Die prys van ’n maand se bankstate wissel tussen R2 500 en R4 000 (maar ’n kwotasie van ’n ander private speurder wys hy vra so min as R1 200 vir ’n maand se bankstate);
* Dit kos sowat R12 500 om meeluisterapparate in iemand se huis te plant; en
* Dit is taamlik algemeen vir private speurders om sogenaamde phishing-aanvalle op rekenaars te doen om sodoende e-posse te onderskep.
Maar volgens Chad Thomas, ’n private speurder by IRS Forensics in Johannesburg, is forensiese ondersoekmaatskappye wat bereid is om inligting onwettig te bekom, in die minderheid. “Die meeste ondersoekmaatskappye werk saam met wetstoepassingsagentskappe en die howe om inligting wettig te kry.”
Thomas sê beginsellose private speurders kry dikwels vertroulike inligting deur korrupte polisielede te betaal vir vals saaknommers en om onwettige lasbriewe uit te reik.
’n Ander private speurder, wat ook anoniem wil bly, het gesê die toename in die onwettige handel van vertroulike inligting is aan vaardigheid en kapasiteit binne die polisie.

Slagoffers van huisbrake wend hulle dikwels tot private speurders wat op onwettige wyse die rekords van die gesteelde selfone bekom.

Dié inligting word dan aan die polisie gegee en die gesteelde eiendom word opgespoor.

Dít gebeur selfs al weet die polisie die inligting is op ’n onwettige wyse gekry, het die private speurder gesê.
“Dit kan die polisie ses tot agt weke neem om dieselfde inligting deur amptelike kanale te kry. Met die onwettige roete sal die klaer baie vinniger bevrediging hê en die saak vinniger opgelos word.”
Hy sê deur kredietnavrae kry private speurders inligting oor mense se maandelikse inkomste, lenings en ooreenkomste waarvoor hulle aansoek gedoen het, woonadresse, werkgewers, asook kredietwaardigheid en vonnisse teen die persoon.
Omdat baie private speurders voorheen polisielede was, is dit betreklik maklik vir hulle om onwettig toegang tot misdaadrekords te bekom.

Volgens wet is dié inligting slegs by die Suid-Afrikaanse Polisiediens se sentrale misdaadrekordsentrum in Pretoria beskikbaar.




RAPPORT



KOMMENTAAR DEUR SONNY




HIERDIE BEDROG EN IDENTITEITS DIEFSTAL IS SO OUD SOOS TAFELBERG!

MENS IS VRAATSIG EN DOEN ALLES ONWETTIG VIR GELD!

DAN PRAAT ONS NIE HIER VAN DIE ANC REGERING NIE!

DIE ANC IS BESIG OM SY GAT IN SUID-AFRIKA TE SIEN!

KORRUPSIE IS BAAS VAN DIE PLAAS!






No comments:

Post a Comment