Friday, March 22, 2013

‘Militêre gebreke skaad SA leiersrol’

Geen Gevaar Geen behoftes Geen lugvaart..............





















2013-03-21 22:36


Erika Gibson



Ramstein-lugmagbasis (Duitsland). – Suid-Afrika en sy weermag bly die belangrikste voorbeeld van ekonomiese vooruitgang en leierskap in Afrika, maar sekere gebreke in sy militêre mondering kan sy posisie benadeel.

So kan ’n gebrek aan veral lugvervoer­vermoë Suid-Afrika se invloed oorgrens en elders in die streek drasties verminder.

Brig.genl. Thomas Sharpy, hoof van beleidsbeplanning in die Amerikaanse lugmag in Europa en Afrika, het tydens ’n voorligting oor die Amerikaanse Africom-bevelshoofkwartier (Africom) gesê die VSA sal altyd bereid wees om Suid-Afrika met sy “uitdagings” te help.

Hy het gereageer op ’n vraag oor die gevolge van die Suid-Afrikaanse lugmag se onvermoë om sy uitgediende lugvervoervermoë gou te vervang. 

Die huidige vloot vragvliegtuie sal vanjaar 50 jaar oud wees en die Dakotas, wat beperkte maritieme patrollies kan doen, is reeds meer as 70 jaar oud.

Volgens Sharpy is die grootste gevaar dat ’n lugmag – veral een in Afrika – bitter moeilik weer ’n vermoë sal kan opbou as dit eers verlore gegaan het. 

Daarom is dit beter om minstens ’n beperkte vermoë aan die gang te hou as om dit tot niet te laat gaan.

Om ’n vegvliegtuigvermoë byvoorbeeld heeltemal af te skaf het op kort termyn dalk sin, maar as daar weer ’n behoefte daaraan ontstaan, sal die heropbou daarvan geweldig duur wees. 

“Die ander probleem wat ons in Afrika teëkom, is dat lande talle verskillende soorte vliegtuie aan die gang probeer hou pleks van om te standaardiseer. 

Deur eerder ’n veelsydiger vliegtuig vir meer rolle te gebruik met minder instandhoudingskoste het meer sin,” het hy gesê. 

Volgens hom is dit verblydend dat Suid-Afrika en sy weermag gretig is om by lande soos die VSA te leer. 

So is daar onlangs ’n ooreenkoms gesluit waarvolgens onder-offisiere van die weermag in die VSA sekere kursusse sal gaan doen en die VSA op sy beurt van sy onder-offisiere sal stuur om die Suid-Afrikaanse weergawe van die kursusse te doen.

Volgens Sharky is daar geen planne vir Africom om enige permanente basisse in Afrika te vestig nie. 

Africom het wel ooreenkomste met lande waarvolgens die Amerikaanse lugmag sekere basisse kan gebruik wanneer nood, rampe of konfliksituasies dit vereis. 

Beeld


Kommentaar deur Sonny

Dalk sal ons n beroep op Bob Mugabe maak om ons ou 'Choppers" aan ons te leen?

Of ons kan almal met SAA oorlog toe vlieg.

Die hele kabinet gebruik hulle mos gereeld!

DALK KAN ONS "BOKRY!"

No comments:

Post a Comment