Tuesday, April 2, 2013

Wet oortree, maar skema is nie onwettig


Wet oortree, maar skema is nie onwettig

Deur: Adri van Zyl2013-03-30 22:39
Johannesburg. – ’n Volbank appèlregters het beslis dat die gelikwideerde Spitskop Village Properties nie tot onwettige skema verklaar kan word bloot omdat die Bankwet en die Wet op Skadelike Sakepraktyke oortree is met die werwing van geld nie.

Die appèlregters het wel tot die slotsom gekom dat daar nooit ’n moontlikheid was dat Spitskop suksesvol ontwikkel sal kan word nie en dat beleggers se geld deur die bemarkers van Spitskop wanaangewend is.

Spitskop en Bluezone, ’n sindikasiemaatskappy wat die beleggings in Spitskop bemark het, is in 2009 gelikwideer nadat R460 miljoen by 1 216 mense gewerf is om huisvesting op ’n stuk grond naby Steelpoort te ontwikkel.

Spitskop is in Oktober 2009 deur die Noord-Gautengse hooggeregshof tot onwettige skema verklaar. Nadat ’n belegger in Spitskop in 2010 ’n aansoek ingedien het om die likwidateurs te laat ver­wyder en die hofbevel waarvolgens Spitskop tot onwettige skema verklaar is, ter syde te laat stel, is Spitskop in Desember 2010 opnuut tot onwettige skema verklaar. Die appèl waarop die uitspraak nou gelewer is, is daarna ingedien.

Al het die appèlregters beslis dat ’n oortreding van die Bankwet nie genoeg gronde is om die hele skema onwettig te verklaar nie, het hulle nietemin in hul uitspraak daarop gewys dat die direkteure van Bluezone “wettige instrumente” gebruik het om liggelowiges te oorreed om in ’n skema te belê wat van die begin af tot mislukking gedoem was.

Hulle sê daar bestaan geen twyfel nie dat van die direkteure van Blue­zone hul posisie misbruik het om aan hulself groot bedrae te betaal uit die geld wat vir die Spitskop-ontwikkeling gewerf is.

“Die bewyse dui daarop dat Spitskop roekeloos of met die bedoeling om mense te bedrieg, bedryf is deur sommige van die bemarkers van Spitskop, indien nie almal nie,” lui die beslissing van die appèlregters.

Hulle kom tot die gevolgtrekking dat dit neerkom op ’n strafregtelike misdryf en dat die bemarkers wel die Bankwet oortree het.

Johan Engelbrecht, wat in 2011 as likwidateur aangestel is nadat die vorige drie mede-likwidateurs verwyder is, sê die uitspraak is ’n keerpunt in die likwidasieproses.

“Die proses om die wanaangewende geld terug te vorder van die voormalige direkteure van Spitskop en Bluezone, professionele raadgewers wat daarby betrokke was asook die vorige likwidateurs, sal nou vinniger kan vorder.”


Lees meer oor:    beleggings  |  skema  |  spitskop

No comments:

Post a Comment