Sunday, October 27, 2013

Haar naam is Karen ? Her name is karen

No Fear No Favours No Harming our children in South Africa......


SOUTH AFRICAN COLD CASES



2013-10-19 23:27



Jacques Pauw






Karen Strydom. Sy het begin om ’n boek oor haar lewe te skryf, maar opgehou omdat dit te seer maak. Pleks daarvan het sy met haar Vlakte-ondersteuningsgroep begin. | Foto: Jacques Pauw
n Boodskap uit die bloute het hom gehelp om een van die grootste raaisels in ’n joernalistieke loopbaan van meer as 30 jaar op te los, skryf Jacques Pauw.

Onlangs kry ek ’n e-pos met dié kriptiese boodskap: “Bel my. Ek wil met jou praat oor Die Vlakte.”

Dit het nie my nie langer as ’n breukdeel van ’n sekonde geneem om presies te weet waarna die vrou – sy het haar naam onderaan die e-pos geteken as Karen Strydom – verwys nie.

In ’n joernalistieke loopbaan van 30 jaar is daar uiteraard stories wat jou langer bybly as ander – stories wat hul vingers om jou keel span en vir ’n wyle jou lewe só oorheers dat jy hulle nie sommer vergeet nie. Party los jou nooit heeltemal nie.

Die Vlakte is een van hulle. Dit was ook my eerste gróót storie. As my van Kallis was, was Die Vlakte my eerste ses in toetskrieket.

Ek onthou dit nog soos gister. Dit was ’n koue wintersdag in 1985 toe ek, destyds op Rapport se algemene redaksie in Johannesburg, ’n oproep kry van ’n meisie wat sê ek moet haar kom sien, sy het ’n storie.

Wat haar naam was, kan ek nie meer onthou nie. Dit was in elk geval van mindere belang, want sy was nog minderjarig en ons kon nooit haar naam publiseer nie.

Ek het haar ontmoet in die woonstel van Magda Nunes, ’n verpleegster wat in Hillbrow geloseer het en ’n naam wat later landwyd bekend geword het.

Die meisie was tenger, verwaarloos en haar wit gebleikte hare het in slierte oor haar skouers gehang. Sy was 16, maar haar oë was lánk nie meer dié van ’n kind nie.

Sy het vertel dat sy weggeloop het uit Die Vlakte, ’n nywerheidskool vir meisies in Standerton in die ou Oos-Transvaal. Daar was destyds oor die land heen 14 sulke skole waarheen howe probleemkinders gestuur het.

Haar storie was skokkend: Vanjong tienermeisies wat vir twee weke en meer in eensame aanhouding toegesluit word, van hoedie sadistiese hoof, ene Jan van Aswegen, die meisies dwing om’n blommetjiesbroek aan te trek voordat hy hulle tot tien houe op’n keer slaan met ’n strop genaamd “Sannie”.

En hoe Van Aswegen op ’n keer ’n brandende sigaret op haar kop doodgedruk het toe hy haar gevang het dat sy rook.

Nadat Van Aswegen haar een keer twee weke lank alleen in ’n sel opgesluit het met net ’n matras, twee komberse, ’n slop­emmer en ’n Bybel, het sy dit reggekry om saam met ’n groep meisies weg te loop. Die meeste van hulle is Hillbrow toe, maar twee van hulle het besluit om Durban toe te ryloop.

Op pad Durban toe is een van dié meisies verkrag en die ander, Sarie van Wyngaardt, vermoor.

Die kind het my vertel dat Van Aswegen Sarie se lyk Vlakte toe laat kom het waar hy haar verminkte liggaam aan die res van hulle gewys het met die boodskap: “Laat dit nou vir julle ’n les wees.”

In die daaropvolgende paar maande het Rapport die haglike toestande in Die Vlakte en in die land se ander nywerheidskole genadeloos op ons voorblad oopgevlek.

Piet Clase, destydse minister van onderwys en kultuur, was woedend en het in ’n onderhoud gedreig hy gaan my “donner” omdat ek met sy mense “neuk”. Dié opmerking het hom ook ’n plek op Rapport se voorblad besorg.

Magda Nunes is gearresteer en aangekla omdat sy aan ’n wegloopkind herberg gebied het.

Rapport het twee top-advokate aangestel om haar te verdedig en sy is uiteindelik vrygespreek – maar nie voordat die koerant se regspan Van Aswegen onder kruisverhoor geneem het nie waar hy vir “Sannie” en die blommetjiesbroek aan die hele wêreld gewys het.

Teen die einde van die verhoor het ’n verontwaardigde landdros gelas die broek en die slaanding moet vernietig word om seker te maak dit word nooit weer gebruik nie.
Uiteindelik is ’n ministeriële kommissie van ondersoek aangestel wat gelei het tot die hervorming van nywerheidskole en die afskaffing van eensame opsluiting en lyfstraf vir meisies.

My werk was afgehandel.

Behalwe vir een ding. Wat het regtig met Sarie van Wyngaardt en haar vriendin gebeur?

Van Aswegen het Sarie se moord in die hof erken, ook dat hy haar lyk Vlakte toe gebring het. Hy het beweer dit was vir ’n “erediens” en dat dit daar was waar haar kis oopgemaak is.

Hy het egter deurentyd ontken dat Sarie se vriendin verkrag is of dat sy in eensame aanhouding geplaas is nadat sy teruggebring is na die Vlakte.

Dit is die één aspek van die sage wat ons nooit kon bewys nie.

Totdat ek een Maandagoggend die telefoon optel om vir Karen Strydom te bel.

“Dertig jaar gelede was ek Karen Petzer,” het sy gesê. “En ek was saam met Sarie van Wyngaardt die nag toe sy vermoor is...”

Karen Strydom se hand is koel en droog, haar oë groen en warm toe ek haar uiteindelik ontmoet op ’n plaas buite Cathcart in die Oos-Kaap waar sy en haar man deesdae boer. Op haar skoot lê ’n foto-album en om haar is daar honde, kinders, voëlgesang en ronde groen heuwels.

Hoe het jy ná al die jare by my uitgekom? wil ek weet. Sy vertel sy het ’n paar jaar gelede ’n steungroep begin vir meisies wat in die Vlakte onder Van Aswegen se sadisme deurgeloop het.

Iemand het haar toe vertel van ’n boek wat ek geskryf het waarin ek van Rapport se destydse ondersoek vertel. Sy het my uitgewer gebel om my adres te kry.

Sy wys vir my ’n swart-en-wit-kiekie van ’n langbeenmeisie met ’n mop swart hare en ’n strak gesig.

“Dis ek,” sê sy.

“Ek was seker so sewe of agt. Dis geneem net nadat my oom my verkrag het.”

Op al haar kinderfoto’s is haar gesiggie altyd strak. “Daar was niks om oor te lag nie. My ouers was alkoholiste en kon nie na ons kyk nie.”

Op 12 het sy begin dagga rook en stokkies draai. Die welsyn het ingegryp en kort voor haar 13de verjaardag is sy Vlakte toe gestuur.

In die volgende drie jaar het sy 22 keer weggeloop. Elke keer is sy gevang en teruggeneem waar sy die blommetjiesbroek moes aantrek en voor Van Aswegen gaan buk – soms tot 10 houe op ’n keer – voordat sy in ’n alleensel opgesluit is.

Sy sê die eerste keer het sy twee weke lank daar gesit.

“Ek wou mal word en het my naam met my naels teen die muur probeer uitkrap.”

Sy was amper meer in die sel as op skool, maar het nietemin elke standerd geslaag. Haar ouers het haar nooit kom besoek nie en sy onthou die alleenheid veral oor Kersfees – sonder selfs ’n boom.

Die 22ste keer dat Karen weggeloop het, was saam met Sarie en vyf ander meisies.

Hulle het middernag ’n venster gebreek, oor die heining geklim en met die spoorlyn af gehardloop tot by die grootpad waar hulle duimgegooi het tot in Hillbrow.

Karen en Sarie wou Durban toe. ’n Groot vragmotor met twee mans het hulle opgelaai en op pad het die mans gestop en vir hulle lekkers en koeldrank gekoop.

In die middel van die nag het die vragmotor naby Escourt in Natal van die pad getrek.

Die mans het omgedraai en gesê dis tyd dat hulle betaal vir die rit en vir die koeldrank en lekkers.

Hulle het messe gehad en Karen en Sarie is beveel om uit te klim.

Sarie het losgeruk en veld in gehardloop. Een van die mans het haar agterna gesit terwyl die ander vir Karen platgedruk en beveel het om tjoepstil te bly.

“Ek het gehoor hoe hardloop hy Sarie in. Daar was ’n worsteling. Ek het gelê en luister hoe hy haar steek. Sy het een keer gegil. Hy het nog gesteek, tot sy stil was.”

Die man het teruggekom en Karen verkrag. Toe het hy haar begin steek. In haar bors, haar maag, haar sy, haar arm. Toe hulle tevrede was dat sy dood is, is hulle daar weg.

Karen het vroegoggend hoofpad toe gestrompel. ’n Motor het gestop en sy het later in die hospitaal in Estcourt wakker geword.

Die messteke het wonderbaarlik haar organe gemis.

Speurders het haar dae lank ondervra en sy moes ’n skets help maak van die twee moordenaars wat op die destydse Police File uitgesaai is. Hulle is nooit gevang nie.
Ná twee weke is sy ontslaan.

Sy wys my ’n “Word Beter”-kaartjie wat die verpleegsters destyds vir haar gegee het.

“Vasbyt, jy’s ’n engel,” sê die een boodskap.

“Jy’s ’n dapper meisie,” sê die ander.

En weet jy wat gebeur toe met my? vra Karen. “Hulle stuur my terug Vlakte toe.

“Toe ek daar aankom, my wonde nog seer en verbind, het Van Aswegen gesê hy hoop ek het nou my les geleer en my opgesluit. Dit was vir baie lank.

“In ’n stadium het ’n sielkundige my kom sien, maar meer gehuil as ek.”

Karen sê sy was ’n zombie en het bloot dag in en dag uit bestaan. Sy was nog ’n paar maande in die skool voordat die welsyn haar uiteindelik toegelaat het om by haar suster te gaan woon.

Teen daardie tyd het Rapport se onthullings reeds sy loop geneem en Van Aswegen is ontbloot as die sadis wat hy was.

Maar vir slagoffers soos Karen was dit te laat.

Sy het die destydse st. 9 (gr. 11) geslaag en is toe uit die skool.

Daarna het jare van geweld, verwaarlosing, dwelmverslawing en alkoholisme gevolg voordat sy uiteindelik haar huidige man ontmoet het – die engel wat haar weer mens gemaak het.

Sy het begin om ’n boek oor haar lewe te skryf, maar opgehou omdat dit te seer maak. Pleks daarvan het sy met haar Vlakte-ondersteuningsgroep begin.

“Dis deel van my genesing om oor Van Aswegen en Sarie te praat,” sê sy.

“Dis hoekom ek jou gebel het. Ek wil graag Sarie van Wyngaardt se familie opspoor en vir hulle van hul dogter of suster se laaste ure vertel.

Oor hoe hulle agter in die trok oor ’n nuwe lewe gepraat het terwyl hulle mekaar se hande styf vasgehou het.


RAPPORT


COMMENTS BY SONNY


In 1985 a team of Detectives from the Brixton Murder and Robbery Unit Johannesburg proceeded to Estcourt, Natal to help with the investigation of this Murder/Rapes case.

A Red Scania Long-Haul Truck was used by the suspects who gave the girls a lift to Durban, which ended in Murder and Tragedy, in Escourt.......

This case has never been solved.

Many of these run-aways,  who survived, ended up in seedy hotels and brothels in Hillbrow and elsewhere.

Some were smuggled out of south Africa and were never seen or heard of since.

One prominent case that come to mind is the sordid Paedophile Gert van Rooyen and Joey Haarhoff.

HUMAN TRAFFICKING IS AN INTERNATIONAL EVIL AND CANNOT BE STOPPED!



No comments:

Post a Comment