Sunday, March 27, 2011

Hanlie Retief gesels met Hugh Glenister


Hanlie Retief gesels met Hugh Glenister
2011-03-26 12:24



Terwyl hy pad soek by ’n kruising, bel sy prokureur en tjirp in sy oor: Bob-ou-pêl, kom ons praat eers weer…

“Terwyl ek nog sê: ‘Julle ouens het net my tjekboek lief,’ toe smokkel hulle al met my kop!”

Ernstiger: “Ek het daar opnuut besef: Ek moet dit doen, ék, want niemand anders gaan nie.”

By daai kruispad kry Hugh Glenister toe weer rigting en hy gaan baklei vir ons land ’n stukkie reënboog terug.

Die verstommende uitspraak in die saak Hugh Glenister vs. die President van die Republiek van Suid-Afrika en Ander het Suid-Afrikaners se verbeelding aangegryp. Hier’s ’n gewone ou (’n Rothmans-roker!) wat die staat aanvat. En wen.

Dawid teen Goliat. En Ander. Hy gee so ’n hiëna-laggie.

“Almal wil nou van my ’n held maak. Maar wragtie, ek loop eerder langs jou as voor jou!”

Die aand ná die uitspraak het Glenister saam met sy vrinne in ’n restaurant in Sunninghill gesit. Om daai tafel was dit eerder Libië as Tunisië, eerder bomskok as partytjie. Hulle’t nie eens oor die uitspraak gepraat nie so stomgeslaan was hulle.

Maar daar was dárem sjampanje ná die kampanje…

“Ten minste weet ek nou ek’s nie heeltemal mal nie, hê-hê-hê, en ek het ’n hele paar regters om dit te bevestig.”

Soos ’n wafferse Robin Peterson nou in Indië het Glenister die eerste paaltjie teen korrupsie platgetrek. Nou kom die groot toets, sê hy. Gaan Suid-Afrikaners begin opstaan teen korrupsie? Gaan ons aanspreeklikheid van ons leiers eis?

In sy hofstryd het Glenister nooit ’n politieke agenda gehad nie. Daar was niks waarby hy persoonlik kon baat vind nie. Dit was bloot ’n beginselsaak waarvoor hy R3,8 miljoen uit sy eie sak geskud het.

“Die regsmense het aanvanklik geskat ek sal so ’n halfmiljoen moet opdok (giggel), maar toe raak geld water… my aandeelhouers het nogal begin sweet!”

Maar elke sent is goed bestee, sê Glenister. “Suid-Afrika was goed vir my. Hoekom nié terugbelê in my land nie?

“Ek het my onderneming 22 jaar gelede met R45 begin. Ek het annerkant die spoorlyn in Durban grootgeword. Ek het nie matriek nie, ek het op 15 van die huis af weggeloop, diensplig ontduik. Suid-Afrika het vir my baie geld gemaak. Alles wat ek nou van my hofuitgawes gaan terugkry, stort ek in my trust vir vigswesies.”

Geseënd, dié is hy, lag Glenister, en allesbehalwe bankrot, “al sou die regering my graag ban­krot wou hê”.

“Die staat het vreeslik aangegaan oor hoe ek Suid-Afrika se tyd en geld gemors het. Ek het half verwag om ’n verdere R4?miljoen te hoes vir die staat se hofkoste,” lag hy.

Hy was elke dag in die hof, fronsend oor die hofstukke, vingers teen die voorkop, of buite op die hoftrappe, koponderstebo aan’t kettingrook, ongemaklik as mense hom herken.

“Met ’n hofsaak moet jy dáár wees, anders is jy ongeskik. Wys jou gesig, anders dink mense jy maak net geraas.”

Dit het sy ure en dae ingesluk, sy onderneming benadeel, maar daaroor is hy filosofies.

“As ek op iets fokus, beteken tyd niks. Dan meet ek nie suksesse of mislukkings nie, ek doen wat ek moet doen. En aanvaar die gevolge, goed of sleg.”

In sy voorbereiding vir sy hofsaak het hy deur 400 boeke oor regeringstelsels geploeg – van Montesquieu regdeur Jefferson en anderkant uit.

“Nou weet ek presies waar ons die pad byster geraak het.”

Glenister is bekommerd dat magsbehepte ANC-lede (“nie almal nie, daar’s baie goeie mense in die ANC”) die nuwe wetgewing só gaan plooi en ontman dat dit sy hofoorwinning tot niks gaan maak.

“En dan het ons nooit gekom waar ons wou wees nie.”

Dit steek hom dwars in die krop dat mense kan dink hy soek bloot publisiteit. Eintlik, sê Glenister, is hy nogal terughoudend. Hy rafel nét op partytjies uit, gee hy weer sy wildtuin-laggie. As jong man in Amerika het die Yanks hom Disco Bob gedoop oor hy nie kon wegbly van nagklubs se dansbane nie.

Sjoe, sug hy weer. Dit was ’n alléénstryd, dié hofsaak.

Wat hom seker die eensaamste laat voel het, was dat Suid-Afrikaners nie wou saambaklei nie. “Soveel mense het vir my gesê hulle stem saam, maar wat help dit, die oormag is te groot.”

Hy vertel hoe ’n jong ou hom by ’n partytjie opgesoek het, twee dae ná die hofuitspraak.

“Hy wou net kom dankie sê, want ek het sy kop gedraai. Hy was op die punt om te emigreer, hy is al een van sy familie wat nóg nie in Australië bly nie. Nou het hy hulle laat weet: My land is beter as julle s’n, my regering is meer aanspreeklik as julle s’n, ek bly net hier!”

Sjoe. Net daar het die swaarkry van sy jare lange stryd weggesmelt, sê hy sag. Dís al wat saak maak, sê hy. Nuwe hoop.

Mense beskou hom nou as ’n vlagdraer vir demokrasie, hulle hoop hy gaan ánder kruistogte lei. Maar vra hom daaroor en hy skram weg.

Eers wil hy ’n maand gaan leeglê in Montana se wye oop ruimtes. Whaaaid oupen spyyyysis, glip die Yank-drawl terug in sy stem. “Perdry in die berge, luister hoe water kabbel, my kop skoon kry. Ek wil eers mooi gaan nadink oor my rol, ás ek enigsins een het.”

En sommer in dieselfde asem soek hy na sy volgende loopgrawe: “die Hoofstuk 9-instellings wat so afgetakel word, die party-lysstelsel wat tot tirannie lei…”

Hy begin lag. “Maar ek is g’n kaptein nie, ek is eerder ’n ­coach. Niks op aarde is vir my lekkerder as om mense te bemagtig nie.”

Maar hoe, wonder jy, beland ’n geskeide, middeljarige miljoenêr, in ’n kantoorpark in Midrand wat Roland- digitale masjinerie aan Afrika-lande verskaf, in sulke politieke loopgrawe?

Gaan soek die antwoord in Andrew Feinstein se boek, grap hy ernstig. After the Party se ontleding van die magspolitiek en korrupsie binne die ANC “het my hart gebreek”.

“Dis daai ding: Absolute power corrupts absolutely. Die ANC loop ’n pad van gulsigheid.”

Feinstein se boek het in sy agterkop bly stoom, en toe hy hoor die Skerpioene gaan ontbind word, het hy ontplof.

“Ek was gatvol. En as ek my humeur verloor, moet ek oppas, want dan hou ek self nie eens van my nie…”

Sy steun het van oral gekom: Raenette Taljaard, Diane Kohler-Barnard en Hennie Lombaard het hom menigmaal uit die depressie-doldrums getrek. Daar was kelners, ANC-politici (“nie- amptelik”) en opportuniste wat hom as melkkoei vir hul eie agendas wou gebruik. “Ek is verbaas oor hoeveel afgetredenes hul beursies vir my oopgemaak het, skenkings wat ek in my trust vir vigswesies gestort het.”

Maar hier aan die einde was hy meestal alleen, vergete.

Toe hy by Business Against Crime aanklop om hulp, het hulle anderpad gekyk.

“Die helfte van hulle is ANC… Groot ondernemings gaan niks teen die regering doen nie – kyk wat het destyds met ENB se grootbaas gebeur.”

Glenister is g’n groentjie as dit kom by swaargeskut nie. In 1999 het hy Standard Bank en die Kerk van Sciëntologie uitgeknikker toe die bank hom wou dwing om ’n skool wat hy “geerf” het aan die kerk te verkoop. Hy was op die randjie om al sy geld te verloor en het vir sy benoude prokureur in ’n pub gesê as hy moet kies tussen sy 54 werknemers en 500 skoolkinders, wen die kinders.

Hulle hét gewen, natuurlik, grinnik hy, hy én die kinders. Heron Bridge College is vandag ’n topskool in Johannesburg.

“Ek beskou dit as die grootste sukses van my lewe.”

Die lewe is nog altyd vir hom ’n spel. “Jy word soggens wakker en jy spéél.”

Hy het al miljoene gemaak, alles verloor, weer gemaak. Hy het vrede daarmee; hy doen nog altyd dinge anders as die boeke.

“Geld is soos ’n hamer. Gee dit vir ’n idioot en hy breek alles. Gee dit vir ’n skrynwerker en hy maak meubels uit dryfhout. Ek het nou baie hamers…”

Al wat jy nodig het, is jou kop en twee hande. En energie.

“Gooi ’n bal in ’n kamer vol mense en jy sien hoe die energie begin rondwip. Korrupsie is presies die teenpool – dit suig alle energie en kreatiwiteit uit mense.”

As jy in ’n hoek is, sê hy, kom soveel skeppende energie los. Dit het met Afrikaners ná apartheid gebeur. Daar’s soveel energie, hulle máák dat ander na hulle luister.

Wat sy hofstryd hom veral geleer het, is dat Suid-Afrikaners veel meer saamstem oor dinge as wat hulle verskil.

“Ons is nogal verdraagsaam. Ons glo in onsself en ons vermoë om dinge ten goede te verander. Maar politici dryf met hul rasse-uitsprake wigte tussen mense – nes tydens apartheid.”

Sy vyf kinders en eksvrou ondersteun hom ten volle.

“Ek is nie ’n gesinsman nie, maar hulle is daar vir my. Ek is ’n bietjie van ’n sigeuner – ek kan môre my tentpenne uittrek.”

Entrepreneur, aweregse hardekop, jukskeibreker. Hugh Glenister is dit alles, maar veral, by uitstek: ’n padwyser na hoop.


( Rapport.co.za)

No comments:

Post a Comment