Sunday, June 16, 2013

Chinese dol oor die Voortrekkermonument

Geen Vrees Geen Voorregte Geen Korrupsie



Jun 15 2013 22:30Antoinette Slabbert





Die Voortrekkermonument roer Chinese toeriste se hartsnare, want hy praat met hulle in hul eie taal.

Dit is ’n sleutel tot sy sukses in die gesogte Chinese toeristemark, sê Sonja Lombard, besturende direkteur.

Sowat 27% van die besoekers aan die monument in die boekjaar tot 28 Februarie was van China. Dit is sowat 50 000 toeriste, sowat die helfte van die Chinese wat jaarliks na Suid-Afrika reis.

Lombard sê die Voortrekkermonument het omstreeks 2006 dié mark begin teiken.

Volgens Euromonitor International, ’n internasionale verslag oor internasionale toerismetendense, is China en Indië die twee lande van waar buitelandse reise en toeriste se besteding in die buiteland die vinnigste groei (meer as 10% per jaar).

Die reisigers is deel van die groeiende middelklas in die twee lande. Hulle gee voorkeur aan bestemmings in Asië. Tweede op die Chinese se lys is die VSA, gevolg deur Australië en Frankryk.

Maar hulle begin ook verder uitwyk, en Suid-Afrika se lidmaatskap van die Brics-lande plaas hom op Chinese toeriste se radar, sê Lombard.

In 2012 het 90 miljoen Chinese toeriste na die buiteland gereis. Sowat 100 000 het Suid-Afrika besoek, en die helfte van hulle was by die Voortrekkermonument.

Lombard sê Chinese is kultuurtoeriste en wil inkopies doen. Hulle gebruik die internet en bestemmings moet verseker dat hulle inligting aanlyn beskikbaar is.

Die meeste Chinese reisigers is egter nie Engels magtig nie, maar verstaan vereenvoudigde Chinees.

Om met die toeriste in dié taal te kommunikeer, het die Voortrekkermonument met die China Business Network geskakel. Dié organisasie het die monument se webblad en ander bemarkingsmateriaal in Chinees vertaal in ruil vir jaargelde.

Dít was een van die deurslaggewende faktore wat vir die monument verlede jaar 45%-groei in Chinese toeriste besorg het, sê Lombard.

Sy was in April by die China Outbound Travel en Tourism Market in Beijing wat haar groter insig in die behoeftes van haar Chinese besoekers gegee het.

“China is so oorbevolk dat die inwoners graag wil uitkom,” sê sy. Daar is baie staats­museums en toegang is gratis, maar besoekers moet vooruit bespreek omdat die vraag so groot is.

“Ek het besef waarom die Voortrekkermonument soveel aanklank by Chinese toeriste vind. Wanneer hulle hier kom, sien hulle heel eerste die wild op die terrein. Hulle stop onmiddellik om foto’s te neem.” Die oopte en vryheid spreek tot hulle, sê Lombard.

Die Voortrekkkermonument het nou gevestigde verhoudinge met die grootste toeroperateurs wat Chinese toeriste na Suid-Afrika bring.

Dit is egter nie genoeg om die toeriste net hier te kry nie. ’n Mens moet hulle laat welkom voel, sê Lombard. Daarvoor is inligtingsborde in Chinees oral in die monument aangebring, hoewel die Chinese meestal in groepe kom met hul eie gidse. Daar is ook planne om van die toiletgeriewe aan te pas volgens hul behoeftes.

Sy sê dit is belangrik om die besoekers se tyd te respekteer. “Ons weet ons het net ’n uur om ’n ervaring te bied wat hulle emosioneel raak.”

Verder moet die tarief só bepaal word dat binnelanders tegemoet gekom word, maar buitelandse toeriste nie uitgebuit voel nie. Dit vermag die Voortrekkermonument deur afslag te gee aan gesinne. “Buitelanders bring selde kinders saam.”

Die Voortrekkermonument bied sy storie aan om universele temas. “Die monument is ’n konkrete simbool van vryheid en opoffering, waarmee almal kan identifiseer,” sê Lombard. “Dit is ’n inklusiewe monument vir mense wat wou wegkom van Britse koloniale oorheersing en geveg het vir hul geloof, kultuur en grondbesit.”

Die Voortrekkermonument se totale bedryfsbegroting beloop R12 miljoen per jaar en die instansie kry baie min finansiële steun van die regering. Net 2% van die begroting word aan bemarking bestee. “Ons moet slim werk,” sê Lombard.

RAPPORT

KOMMENTAAR DEUR SONNY

JA SUID-AFRIKA BLY N MOOI LAND VIR DIE BESOEKERS.
NIKS SAL ONS GESKIEDENIS BEDERF NIE.

3 comments: