Monday, May 24, 2010

Boere trek polisievrou vas







2010-05-23 22:33

Artikelopsies Deel Kry Beeld op

Amanda Roestoff

’n Polisievrou is in hegtenis geneem ná ’n plaasaanval in Schweizer-Reneke, Noordwes, en ’n voormalige polisielid word in verband met die voorval gesoek.

Mnr. Abraham Oosthuizen (35), ’n saai-en-beesboer op die plaas Grootlaagte, is Vrydag 20:00 aangeval toe hy by sy plaas aangekom het nadat hy werkers gaan aflaai het.

Hy het met sy bakkie onder ’n afdak sowat 15 m van sy huis stilgehou en uitgeklim met dokumentasie en sy .22-haelgeweer in sy hand.

Die volgende oomblik het drie mans op hom afgestorm en ’n skoot op hom gevuur.

“My eerste reaksie was om aan te val en ek het sommer so (een skoot) van die heup af geskiet,” het Oosthuizen vertel.

Een van die aanvallers het weggehardloop, maar twee het agter sy bakkie gaan wegkruip. “Toe skiet hulle sommer so oor die enjinkap van my bakkie na my toe!”

Oosthuizen het by sy huis ingehardloop, die deur gesluit en ander boere se hulp oor ’n tweerigting­radio ingeroep.

Binne sewe minute was van die boere daar. Hulle het na die aanvallers begin soek en die plaas gefynkam.

“Die boere was fantasties,” het Oosthuizen gesê. “Van hulle het tot sover as 60 km gery om te kom help.

“So ver soos hulle gery het, het hulle paaie toegemaak en mense deurgesoek.”

’n Verdagte wit Colt-bakkie is op die Hartsfontein-grondpad van die pad gedwing.

’n Vrou is agter die stuur aangetref en in hegtenis geneem.

Sy is ’n 34-jarige konstabel van die Florida-polisiekantoor in Roodepoort se misdaadvoorkomingseenheid.

Ao. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, kon nie sê hoekom die bakkie verdag was of wat die vrou met die aanval verbind nie.

Hy het net gesê die bakkie is deurgesoek en daar is vasgestel dat dit geregistreer is in die naam van ’n voormalige polisielid van Rustenburg wat in Februarie glo uit die polisie bedank het.

Dié oudlid was ook na bewering deel van die aanval en sou hom gister aan die polisie oorgegee het, maar teen druktyd het dit nog nie gebeur nie.

Nog ’n verdagte, ’n 36-jarige man, is eergister in Ipelegeng, net buite Schweizer-Reneke, vasgetrek.

Nog ’n verdagte is steeds soek.

Verskeie polisie-items is in die bakkie gevind, waaronder die voormalige polisielid se aanstellingsertifikaat, die vrouekonstabel se aanstellingsertfikaat, ’n polisie-flitslig, twee handradio’s en ’n oranje noodlig.

Daar is ook op een van die verdagtes se rybewys, asook ’n Z88-pistool en ’n magasyn met 15 patrone beslag gelê.

Oosthuizen het die polisie se beweerde betrokkenheid by die aanval as teleurstellend bestempel.

Die polisievrou en die 36-jarige man sal vandag op aanklag van poging tot moord in die hof verskyn.

Beeld

Comments by Sonny

The enemy within!!

....."Sy is ’n 34-jarige konstabel van die Florida-polisiekantoor in Roodepoort se misdaadvoorkomingseenheid!"......

This is why affirmative action works in the SAPF.

Crime is the driving force4 behind 'their' actions.

The farmers should shoot on sight, or be killed as is the statistics.

Florida is where a commissioner rigged the stats and was promoted three or four years

ago.

No comments:

Post a Comment